Vrolike lentedag in Mimetespark

Item 1 of 4

KLEINMOND – Die Natuurbewarings - vereniging se idee om Mimetespark op 1 September aan die publiek bekend te stel, het goeie vrugte afgewerp. Inwoners het met piekniekmandjies, komberse en stoele opgedaag en hulle in ‘n beskutte oopte gemaklik gemaak. Wapperende vlaggies en balonne het die ingang en roete daarheen aangedui.

Drie vriendinne het die kollig gesteel met hul blomversierde sonhoede en kleurvolle uitrustings. Hulle het selfs fyn porselein gebring om hul tee en vingerhappies uit te geniet.

Van hupse silwerkoppe tot ouers met kleuters het die pragtig-uitgelegde paadjies aangedurf om die blomme te geniet wat plek-plek in plate blom. As ‘n mens mooi kyk, kon jy selfs klein wilde orgideetjies en besonderse bolplante langs die pad sien blom. Die koningsproteas gooi ook nou hul krone wyd oop in die lenteson.

Magriet Brink en Magdaleen Brits kon hul verlekker in die oe’s en aaa’s van die mense soos hulle die twee jaar se harde werk waardeer. Fase een was die oop park aan die oostekant met grasperke en beddings. Hier staan die Watsonias nou geil in die blom en daar is bankies om die uitsig oor tuin en die see anderkant Hoofweg te geniet.

Die tweede fase, waar die piekniek gehou is, word meer natuurlik gehou, met growwe houtkerfsels in die paadjies en krom takrelings om dit af te sper. Al die uitheemse hout wat tussen die fynbos uitgekap is, is hiervoor gebruik.

“Volgende jaar pak ons fase 3 aan – die vleilandgedeelte langs die hoofpad,” sê Magdaleen. Hier is plate varkore al wit in die blom, maar hulle word nog deur gras en restio’s verdring. Hulle beplan om ‘n wandelpad op die droër kontoer van die vleiland uit te lê en nog ander inheemse vleiland-gewasse te plant.